Wednesday, 30 April 2014

KLEIN GOEDJIES


DAG 27

Nog 'n dag van stem in 'n ver land, Mia help ontruim en besoeke aan gallerye en museums. Nou tyd vir voete-op en reflekteer oor die dag. Van al die ervarings steek hierdie klein video-
installasie by die Musee la Chasse et le Nature (museum van jag en die natuur) in Marais by my vas. Broos, elegant, weerloos, opgekrul in 'n fetus-posisie, dobberend in 'n onnatuurlike medium van water. Die voëltjie is nie jammer vir homself nie; dis maar net hoe dit is ("A small bird will drop frozen dead from a bough without ever having felt sorry for itself." - D. H. Lawrence). 'n Paar meter verder is 'n volgrootte opgestopte ysbeer; gewere van vervloeë dae en skilderye van fisante en konyne wat leweloos en melkoog hang oor 'n donker kombuistafel; gereed om voor te berei vir 'n feesmaal van konings.
Hoe kan so 'n klein dooie voëltjie so by my bly in 'n dag van grootse gebeure; ek het dan eintlik 'n ysbeer van 'n dag gehad?
Miskien wys die voëltjie my net dat in hierdie groot skouspel van lig en klank en drama en leed, op hierdie enorme verhoog, daar iemand is wat tevrede is om die klein rolletjie sonder stem ook te speel. Miskien net die gordyn ooptrek of in die suile wag om ander te help beter lyk. Hoekom onthou ek my laerskooljuffrou wat gesê het ek teken mooi of my twee goals wat ek gescore het teen Ramblers; maar ek weet nie wat ons land se begroting is nie? Of wie nou die minister van Onderwys is nie? Weereens het ek nie die antwoorde nie. Vra vanaand liewer vir iemand wat omgee. Soos die voëltjie, met sy laaste twee vere, gooi ek vir die wêreld 'n bekende teken.


Tuesday, 29 April 2014

хорошо Апетит


EK GROEI

Nes my baard, groei ek. In size ook, ja, maar dis nie wat ek bedoel nie. Ek sien, voel, ruik, proe en hoor nuwe dinge. Ek suig dit op soos 'n spons. Een van daai sponsies waarmee mens skottelgoed was; elke dag dieselfde koppie en bord oor en oor en oor. Die breindood dinge van . . . ek dwaal af. Reg langs my gebou is 'n Joodse sinagoge en Holocaust Museum. Met die Pase die afgelope naweek het hulle die straat afgespan en tente opgeslaan. Toe van Sondag middag tot vanoggend onophoudelik name van Franse gelees wat in die oorlogtyd Jode weggesteek het en Franse Jode herdenk, regdeur die nag. Iets soos 75 000 name gelees. Dis herinner aan 'n tipe kunsinstallasie, net baie diep gewortel in tragiese geskiedenis. 
Môre gaan ek stem by die SA Ambassade. Paulene Gutter, my mede-Suid-Afrikaner by Cité, gaan in 'n langbroek (wat gemaak is van lappe van die eerste verkiesing 20 jaar gelede) daar sit van 07h00 tot 22h00 en dat almal wat kom stem, op haar broek teken of skryf in hul amptelike taal. Dié broek gaan dan deel uitmaak van 'n ander, unieke kunstinstallasie. Ek gaan my naam teken en 'n kort boodskap skryf in Fanagalô; die ONoffisiële landstaal wat miljoene kan praat. Of in Afrikaans? 
En só gaan elke dag verby met 'n nuwe herinnering, 'n nuwe ervaring, 'n nuwe vriend of vriendin, 'n vloekwoord in 'n nuwe taal.
Egészségére! Dis Hongaars vir Gezundheit! Santé! Skol! Nazdarowja! хорошо Апетит! Laat my mos nou wonder: wat is die Engels vir Tsjeers nou weer!?


Monday, 28 April 2014

NONE AT ALL


FREEDOM DAY

I wonder how many politicians in South Africa can say today, on the 20th birthday of our young democracy, what Edith Piaf says so beautifully: No regrets. None at all.

Sunday, 27 April 2014

THE SILENCE OF WHITE SPACE



Julián Fuks is a Brazilian writer; at Cité for a year to complete his novel My Possible Brother (working title). He stays in a loft studio right across the road from mine and I very often see him spending long hours slouched over his keyboard slogging away at the right word, phrase, sentence, paragraph. Turning it over on his tongue, over and over until three and three make five. His craft is his passion, his story a very personal voyage of discovery and rediscovery, in a family context, of love and life and the whole damn thing.
He was reading selected scenes from his progress to about 25 of us after having it translated from Portuguese to English. The man has such stature, such presence. His words draw you into his world  around his family dinner table where the steaming food gets cold in the absence of conversation. So much is unsaid, it shouts. It becomes the bare white area on his canvass, filled with promise and possibilities. Yet it's this silence that ignites imagination. One word, one punctuation, one space can bring the whole moment crashing down in a pile of broken assumptions.
I asked Fernanda to take a picture of him and email it to me. Now I have the memory of yet another special moment somewhere up in a little loft studio near the banks of the Seine, with a good view of my room.


Saturday, 26 April 2014

Three's a crowd



DAG 20

Een van dáái dae beleef. Agskiestoggerig. Drie paar skoene aangepas en nie een gekoop nie. Die verkoopsman het oë gerol. Toe's ek bang vir verkoopsmanne. My internet was af vir die afgelope drie dae. Ek bel die hulplyn van WiFirst, die 20 Euro pm kontrak jy weet, die een waarvan ék die kliënt is. Word in no uncertain terms in Frans vir my vertel daar's fout met my Airport kaart, want wat ek sê is op my skerm is "iempossieble". Toe's ek bang vir haar en sê maar: "OhKê" en laat vaar. Tot die ou op straat wat by my iets bedel gooi my internasionale vingertaal: die Europese Fanagalô vir "gaan weg". Toe is ek bang vir hom en toe reën ek nat op my enigste swart truitjie wat ek al drie weke dra en almal weet dit seker. Toe wag ek by die Citê se laundromat vir iemand om hul klere te kom uithaal sodat ek kan myne kan insit. Natuurlik, net toe ek besig is om haar klere uit te haal en in 'n hopie te pak bo-op, toe kom sy daar aan en gaan tekere. Seker omdat ek presies op daai oomblik met haar luiperdvel tanga in die hand staan. Ek's nou nog bang vir haar, al het ek sedertdien 'n Bialetti koffie en twee wyne gehad. Party dae help mooi smile net nie meer nie. 
Ek wag vir die eerste mooiweersdag dan gaan ek (om te skets) per trein na die dorpie waar van Gogh sy laaste (baie produktiewe) jare gespandeer het. Glo idilies en onverstoord; die kerkie en die geil koringlande staan nog net so en wag. Gee my sommer moed en toe begin skets ek solank die kraaie. Maar met die dag wat ek gehad het . . . wel, julle ken mos daai three-is-a-crowd gevoel?



Tuesday, 22 April 2014

Oscar, Oscar . . .


DAG 16

Ek's nou op dun ys waarvan ek min weet, maar ek gaan my kans waag omdat dit die groot onderwerp in my Parysse vriendekring wanneer ek sê ek kom van Suid-Afrika.
Mense wat swaarkry en 'n slegte hand kaarte uitgedeel is, word hul hele lewe lank geleer deur die samelewing om te veg. Veg om jou toestande te verbeter, veg om bo uit te kom. Gebruik jou talente, jou krag, jou wíl, jou connections, jou klein deurtjies wat mag oopmaak. Mens word geleer deur motivering; hetsy die goue reënboog of faam. Erkenning. Of sekuriteit. Jy word geleer om daarna te smag met alles wat jy het. Vir sommige mense neem dit 'n leeftyd se harde werk en toewyding aan 'n desperate gefokusde ambisie. Hulle speel in agterstrate van townships met 'n opgestopte sokkerbal tot laat in die aand. Hulle speel op 'n blikkitaar of sing in die kerk se gospelkoor. Ander is weer gelukkig en wen 'n Lotto.
Maar nie een van hulle word geleer hoe om, wanneer die sukses sou kom, dit te hanteer nie. Die sosiale village wat dit neem om 'n kind groot te maak, leer nie die kind hoe om dit te verwerk nie. Faam bring geld bring keuses bring verantwoordelikheid. Jy word nie net 'n publieke persoonlikheid nie, jy word die held van miljoene. Jy leef onder die mediamikroskoop. Dinge gebeur outomaties vir jou, deure gaan oop, meisies val om jou voete, maar die groot oog hou jou 24/7 haarfyn dop en jy weet dat dit net wag vir die oomblik, daai een enkele glips, dat jy skeeftrap en jou "halo" gly. Soos ons almal maar boks en Grand Prix kyk: die beste oomblikke is die groot ongeluk of gewelddadige uitklophou van die underdog oor die hero. Dít wat nooit veronderstel was om te gebeur nie.
Nou probeer jouself indink hoe geweldig hierdie druk is?! Jy kan nie net jou hare peroxide as jy vir Bafana Bafana speel en goue kettings aanskaf nie. Jy kan nie vinnige sterk motors ry en nog vinniger en sterker meisies vergader en jou fanclub ignoreer wat buig in jou skaduwee nie. Jy laai druk op jouself wat swaarder en swaarder en swaarder word. Die groot voet trap al heftiger op jou totdat jy soos 'n granaat begin sap lek iewers. En eendag, skielik, as jy nie meer die grootste, blinkste granaat in die mandjie is nie, dan trap daai voet net 'n klein bietjie harder en dan bars jy in 'n gemors van pitte en sous en bevlek die hele spasie óm jou; skielik 'n magtelose jellievis uitgespoel op die strand - totaal uit sy milieue waarin hy gelukkig was.
Ek het nie die antwoord nie, net die teorie. Die hele village moet help. Nie net grootmaak nie, maar herinner waar die persoon vandaan kom en soms NEE sê.


Monday, 21 April 2014


DAG 15

Have-sketchbook-will-travel stap toe na Saint Germain des Prés en soek Le Deux Magots; 'n straatkafee wat famous is vir die groot geeste wat altyd daar koffie gedrink het (seker ietsie sterker ook): Picasso, Hemmingway, Sartre, Simone de Beauvoir. Veral net ná die oorlogsjare gesit en filosofeer en kuier.
Die plek het geen van sy outydse sjarme verloor nie. Kelners in swart strikdasse met lang wit voorskote is soos 'n vertoning uit die silent movies era. Al wat ek kon bekostig (tydgewys, julle weet . . .) was 'n café créme. Draai toe uit dis 'n bargain teen enige koste. Sien, toe ek so alleen sit en staar, toe voel ek die groot geeste saam met my. Pluk toe summier my sketsboekie uit en skets van 'n buite-foto die plek in eensheid met Picasso. Skryf toe 'n 6-woord storie (al neem dit langer as een koffie en Google Translate) in eensheid met Hemmingway - hy het self ses-woord stories gedkryf. Natuurlik baie voor-op-die-wa van my om eers te vergelyk met die groot name, maar die oomblik was besonders, 'n spookasem wat lank sal talm. Dis nie aldag dat jy in die teenwoordigheid van greatness is nie; mense soos Hemmingway en Picasso en Fawa Conradie en al daai ouens, jy weet . . .

Saturday, 19 April 2014


Day 14

Paris surprises me every day. The most unexpected "things" just happen; seemingly without prior warning or marketing. You wake up to the sound of a hundred drums next to the Seine. Or thousands of runners taking to the street as if triggered by some termite biological clock. This morning there was a fresh produce market in the parking lot. An antique fair with stalls and buskers in a nearby park. Thousands of motorbikes can take to the streets at full rev at the drop of a berét. It does not cause consternation or impatience; onlookers gather and cheer. You never know what's going to attack your senses next. You just never know. Went picnicking next to the river in a long sculpture garden the other evening. Suddenly an oompah-band starts rehearsing nearby. Then a huge dance school starts doing Spanish dances on the esplanade. Tourist boats go by and cheer. Some guys are walking on a tightrope between two park trees. There is this huge guy who is living sleeping sitting leaning on a bench outside our building. I have not seen him move off the bench since I got here 14 days ago. This afternoon I saw a poster advertising the GENY PARISIAN BITCH ASSOCIATES.COM. 
Go figure.

Friday, 18 April 2014


DAY 13 Good Friday 

Kanye West: Street lights

Seems like, street lights, glowin
Happen to be just like moments, passin
In front of me so I hopped in, the cab and
I paid my fare see I know my destination
But I'm just not there

Thursday, 17 April 2014


DAG 12

Franse het vensters sodat hulle hul Malvas kan natgooi. Dis al hoekom. Ek sien nooit iemand by hul venster uithang soos ek nie. Miskien is vensters om lug in te laat? Of lig? Of om saans laat daardeur in te klim sodat jou ouers nie wakker word nie? Of is vensters net vir die kat om in die vensterbank in die son te sit met skrefiesoë? Vensters vertel 'n storie. Dit wys daar's lewe daar binne agter die muur. Binne bly mense met lewens en issues en wense en teleurstellings en met kinders en wat normale dinge doen soos huishou en tv kyk en na musiek luister en blogs skryf. Buite is die wêreld; en al kan jy deur 'n toe venster sien, hou dit die wêreld daar buite. En as dit donker word en die ligte gaan gesellig binne aan, dan word die gordyne toegetrek sodat die wêreld nie op jou of jou familie kan spy nie. Netnou sien die wêreld iets wat hy nie moet nie; soos 'n kraak in jou mondering.
Miskien los mens onbewustelik maar altyd 'n skrefie oop? After all, dis soos wat Leonard Cohen gesê het: "Cracks are good- its where the light gets in".

Wednesday, 16 April 2014




DAG 11

Hoe lekker was dit nie om in 'n groot standbeeldtuin langs die Siene te gaan stap en op dié mooi donker Iris af te kom nie! Heeltemal 'n blom van haar eie, met kartels en dartels en 'n mengsel van diep pers tot ligblou en spatsels oker. Perfekte grimering vir die Parysse son. Lippe mooi rooi, krale om die nek. Oral lê mense rond; en natuurlik maak die Iris geselsies met almal terwyl sy onbaatsugtig en uitgelate dans in die wind: "Hiers is ek! En wat kan ek vir jou doen vandag?" Mens raak sommer van voor af verlief. 'n Stukkie Bloemfontein in 'n pragtige park vir almal om te bewonder. 
Net een probleem met 'n Iris: jy kan dit nie pluk en in 'n vaas sit nie; dit verwelk sommer. Nee, dit hoort in die vrugbare, klam grond en natuurlike son waar dit vir soveel meer mense iets kan beteken. Veral mense in ver lande wat onverwags so 'n bietjie huistoe verlang.

Monday, 14 April 2014


DAY 10

Ok, so there I was in my neighbour's flat: Mami from Japan. She is a curator of huge Bienale/Trienale Art Exhibitions, sent by the Japanese Art Foundation for a one year residency at Cité. She'd invited myself, some Aussies down the passage and some of her Japanese friends over after the piano recital tonight.
Wonderful to meet these very interesting people and discuss Oscar Pistorius, Nelson Mandela and Goytaku (Japanese fish rubbings) ((really)). We discussed the 8 hour time difference between here and Japan, jetlag, who does what. One girl is a Japanese model, artist and photographer. She does not have legs. Well, she has artificial legs; beautifully decorated in miniscule detail by her own hand. I tried to fix the noise from Mami's Mac Air at some stage and was told that it is "that guy's" music that's playing. So I had another glass of wine (which Mami poured- the hostess pours the wine in Japan, you don't do it yourself).  Then it was time for good byes and a great end to a great evening. I thought it appropriate to tell them all in the hallway that my ex-partner and very good friend, Gavin Hong, is Chinese.
Duh.
Now I hope you noticed how many times I'd said "JAPANESE" above.
Certain things can't be fixed. Like an overdone watercolour or a burst bubble. Or a shattered first impression, for example. 
Any advice?

Sunday, 13 April 2014


DAG 9

Ek was vanoggend na die Bastille mark toe hier naby. Ek het nie veel om te sê nie, maar hier is 'n paar sardientjies.

Saturday, 12 April 2014


DAG 8

Daars niks soos 'n kunstenaar of 'n skrywer by 'n sosiale geleentheid nie. Akward awkward awkward. Staan in die buitekring en rook te veel. Wonder of sy klere oraait is en is bang vir almal. Nou stel jou voor 'n piekniek by Cité vir al die "nuwelinge": kunstenaars, skrywers, musici. Ons sit almal ongemaklik rond sonder dat ons knieë durf raak aan mekaar net soos Ring-a-ring-a-rosies in 'n nuwe laerskool. Ek sit sleg só plat; wil eerder my hande agter my uitstrek. Maar niemand anders sit só nie behalwe die Sri Lanka meisie en die een Chinees (hulle sit op hul eie hakke soos Boesmans langs die vuur), so ek sit met inspanning en gooi nog wyn. My Macedonies, Chinees, Siries en Noorweegs is nie heeltemal op peil nie; never mind my Frans. Ek knik baie en smile baie en sê gereeld: "Ahh!" in my beste Europa Fanagalo aksent, maar meesal kyk ek vir die grond en gooi nog wyn. Kos is natuurlik kleurvol, maar ek eet nie daarvan nie. Dis te awkward om op te staan. En dan nog oor te buk, boude in die lug, sodat almal staar na wat jy nou gaan eet. Gooi nog wyn. My been begin onwillekeurig spring, een van daai, ja. Ek bring die gemiddelde ouderdom van die groep so 8 jaar opwaarts.
Nou hoe vra jy 'n internasionale groep mense "Ag pass asseblief daai hummus" of "Kan ek van die lensie-en-cous-cous proe asseblief"? Toe neem ek maar die naaste bord met spanspek en koljanderblare, neem een met my vingers en begin die bord aanstuur. Ek merk op dat meeste van hulle ook afkyk. Een vir een glimlag elke persoon wat die bord ontvang en met 'n "Mercí!" wat soos myne klink, maak almal kontak. Bene begin strek (sit hulle dan ongemaklik?). Ek gooi nog wyn. Die vrou langs my vra in Engels wat baie naby aan Duits is:"So where are you from? Are you a painter?" En toe ek haar antwoord, toe sê sy: " Ahh!". Skielik is ek sommer gek oor dié mense. Ons is sielsgenote, nie nét omdat ons kunstenaars probeer wees nie, maar omdat ons mekaar se bange verstaan.

Friday, 11 April 2014


DAG 7
Buite die Citégebou slaap 'n lang streep mense saans op die stoep langs die straat. Mans, vrouens, oud en jonk. En 'n paar vasgemaakte honde en een kat aan 'n leiband. Party lees tot laat (nie die honde nie) in die helder lig, ander luister met oorfone na watookal. Almal rook. Vreeslike genesskoppery, kartonne uitlê, slaapsakke uitrol en verder vrede. Niemand vra vir iets nie. Vroegoggend is hulle eenvoudig weg tot vanaand. Bo dié een is 'n reisplakaat in die venster wat volgens Google Translate sê: Of jy nou alleen is of 'n familie, dis beter in die berge.
Weet nie so mooi nie. Die Parysse ondervinding is darem maar spesiaal. Vir hulle miskien nie die groot droom van die Big Apple nie, maar die petít droom van 'n gekookte artisjok. Each to his own. Dis húl Parys, meer as myne. Die city of lights het 'n paar donker hoeke waar die lig nie bykom nie. 



Thursday, 10 April 2014


DAG 6

Vliegtuie met pluimsterte skets Koning Dawid sterre oor die lugruim bokant Parys. Vanoggend het ek 11 getel uit my kamervenster. Dis deel van die Parysse stadsargitektuur, landskap, siel. Nie dat jy nou daarmee kan koershou nie, nee, daarvoor is daar die landmerke; so ewig en verseker soos die sterre. Kaapstad het 'n berg. Johannesburg het . . . wel, Ponte, en genadiglik die M2 Suid. En Parys het die Notre Dame, die Seine en natuurlik die Eiffeltoring. Oor honderde jare staan hierdie absoluut merkwaardige triomfe van menslike vermoeëns as bastions van die stad se glorie, van 'n nasie se trotse kuns en kultuur. Dit was nie Churchil wat gevra het: "Then what are we fighting for?" toe Engeland sy kunste-begroting wou sny om die oorlog te steun nie, maar dis 'n baie spirituele vraag. Ons wêreld word nie kleiner nie, net ons spasie. Ons kan vinniger óm die aardbol vlieg as wat dit 'n Fransman neem om 'n goeie Confit de canard voor te berei.
Dis maar al. Een van die dae is my hele familie saam met my in Parys en dan vlieg ons weer pluimstert terug einde Junie en als is verby.
Klein wêreldjie vol oomblikke; aanmekaar gehekel met wit lint teen die blou, blou lug; en wat vinnig wegsmelt in die spookasem van ons memories.

Tuesday, 8 April 2014


DAG 5

Ek staan in 'n lang queue buite die Museum D'Orsay om by die van Gogh uitstalling uit te kom. Die queue vleg zig-zag oor die plein; etelike honderde mense in 'n mate van sin-maak chaos. Geen wonder nie; kyk net na die woord "queue"! Kon dit nie net "Q" gewees het nie; of "KEW". Onnodige aantal letters wat militaristies in gelid agter mekaar staan, maar tóg vorm dit'n tipe ritmiese balans. As een letter soos 'n dik Amerikaner in die queue moet indruk, is alles omvergewerp. Que$ue. Dit werk net nie. Hy gaan "form a line" toe eerder by MacDonalds as om vir "this guy with the one ear" te queue. Get outa here! Dan is daar die skoolgroep wat gelyk wil ingaan. Queuiiiiiiiiie. En spoedig word dit'n luidkeelse Queui!i!i!i!i!i!i!i!e. En die arme Fransman wat al baie lank queue: net toe hy naby aan voor kom, toe steek hy 'n sigaret op en word na die agterkant van die e~Queu verban; arms verontwaardig omhoog, palms na die hemel. \e~/queue. Maar die mees irriterende is die Oosterlinge met hule selfies. Qu*e*u**e. Onophoudelik. Tetrabytes se fotos van hulself met piepklein sagte fokus geboutjies, riviere en skilderye iewers ver in die agtergrond. Imagine om na hul vakansiefotos te moet kyk. Lang aand. Amper so lank soos dié queueueue.

Monday, 7 April 2014


DAG 4

Ek's gatvol vir tegnologie. Vir internet wat stadig is. Vir wi-fi wat nie konnekteer nie. Vir epos wat nie wil stuur nie. Vir WhatsApp wat nie fotos wil aanheg nie. Vir stadige konneksies en wispelturige rekenaars. My tyd is kosbaarder as om gebuk oor 'n rekenaar te sit soos 'n middeljarige boekresensent wat nie sy eie suksesvolle boek kan gepubliseer kry nie en nou ander mense se snert moet aanbeveel. Half-geskeer, half aan die slaap en half . . . wel, half. Vuil koffiebekers lê rond soos straatbewoners en wasgoed broei op die vloer in die hoek. Brand-oë en seer rug. Buite rinkink Parys en die res van die wêreld salig onbewus van kamer 7131, Rue de watookal, Cité Internationale des Arts.
My ma het nie eers 'n rekenaar nie. Ek kan nie met haar gesels en vertel nie. Al wat sy vra, is dat ek vir haar prentjies van katte teken. OK, Ma, hier's die kompromie: ek teken vir jou poskaarte en stuur dit per pos; dis baie meer bevredigend. En vinniger.
Waterverf sketse. Poskaartgrootte. Presies. 0.90 Euro om oorspronklike kuns halfpad om die wêreld te stuur. 'n Stukkie papier met 'n prentjie op om afgehaal te word by die oord se kantoor en trots rondgewys te word aan vriendinne wat seker nie glo my ma hét 'n seun nie. Dan op die yskas geplak te word saam met die "Hugs: One Size Fits All" magneet en die katkoskoepon. My werk word waardeer en uitgestal. Dis meer as wat baie kan sê. Dankie, Ma.

Sunday, 6 April 2014


DAG 3

Toe Winnie the Pooh vir Piglet vra: "Watter dag is dit?", toe antwoord Piglet: "Vandag" en toe dink Pooh: "Ah! My gunsteling dag"
Dit was vandag vir my só 'n Pooh dag.

Vandag het Parys sonskyn gepols. Die energie was oral óm jou, ín jou. 'n Straatmarathon met derduisende "atlete" in al wat 'n lable is. Groot dromgroepe langs die pad (langs die Seine). Almal cheer, waai vlae en gil vir die hardlopers. Sondag is ook vlooimarkdag. Saam met Mia in Rue Mouffetard se Sondagmark gaan koffie drink en mense kyk. A drawing a day, was my belofte aan myself, ek kan nie net koffie drink nie. Ons sal nog sien... (no pressure!). 
Neem toe op pad terug 'n polisieman af en kom skets hom, 37 x 46cm, waterverf.
Nou gaan ek 'n Bialetti-koffie skink en by die venster uithang soos 'n nat vlag. Phew!

Saturday, 5 April 2014


DAG 2

Toe die boom uitroep, sien ek dit eers raak. Dit knars en dit bewe van uitbundigheid; die takke is oortrek met Spaanse meisies in uitskoprokkies (dankie, Riana) wat uitgekom het in die helder Parysse sonlig en net wil Flamenco's dans, dans, dans. Voor my oë beur die sappigste groen vyeblaartjies op en oop. Klein groen vye stoot al boepens; ongeduldig en beeldskoon, broos soos tieners. Rooi wange, glinsterende tande, oë wat skitter en boksterte wat swiep. Gryp die nuwe lewe aan met delikate vuisies wat witknenukel klim en klouter.
O, dis lente in Parys, kan dit beter? Ja! Ek sien môre vir Mia; ons gaan 'n spesiale van Gogh uitstalling kyk in D'Orsay.
It's a bit of oraait, sou ek sê?

Friday, 4 April 2014


DAG 1

24 uur op vliegtuie, in transit, lughawens, ver geloop tot by Cité waar ek gaan bly vir die volgende 3 maande, ingecheck en my ateljee kom soek. Karig. Bed, tafel, 2 stoele. Badkamer en kombuisie. Uitsig ... wel, as ek ver uitleun kan ek die rivier Seine sien so 50 verder in die straat af. Ek is 'n kind wat sy koshuiskamer ontdek aan die begin van die jaar in 'n nuwe skool. Ek is 'n kat wat 'n leë boks ontdek het.
En toe kry ek die Bialetti in die kombuiskas. Voel daai bekende handvatsel, maak dadelik 'n dubbele brousel. Ek's in Franryk, man, dis mos gepas. Sit terug en skets my nuwe beste vriend; sommer met koffie ipv water. 
Life's too short for bad coffee.
Maar selfs goeie koffie is vir die oomblik; soos spookasem. My reis gaan eintlik nou eers begin.