Saturday, 12 April 2014


DAG 8

Daars niks soos 'n kunstenaar of 'n skrywer by 'n sosiale geleentheid nie. Akward awkward awkward. Staan in die buitekring en rook te veel. Wonder of sy klere oraait is en is bang vir almal. Nou stel jou voor 'n piekniek by Cité vir al die "nuwelinge": kunstenaars, skrywers, musici. Ons sit almal ongemaklik rond sonder dat ons knieë durf raak aan mekaar net soos Ring-a-ring-a-rosies in 'n nuwe laerskool. Ek sit sleg só plat; wil eerder my hande agter my uitstrek. Maar niemand anders sit só nie behalwe die Sri Lanka meisie en die een Chinees (hulle sit op hul eie hakke soos Boesmans langs die vuur), so ek sit met inspanning en gooi nog wyn. My Macedonies, Chinees, Siries en Noorweegs is nie heeltemal op peil nie; never mind my Frans. Ek knik baie en smile baie en sê gereeld: "Ahh!" in my beste Europa Fanagalo aksent, maar meesal kyk ek vir die grond en gooi nog wyn. Kos is natuurlik kleurvol, maar ek eet nie daarvan nie. Dis te awkward om op te staan. En dan nog oor te buk, boude in die lug, sodat almal staar na wat jy nou gaan eet. Gooi nog wyn. My been begin onwillekeurig spring, een van daai, ja. Ek bring die gemiddelde ouderdom van die groep so 8 jaar opwaarts.
Nou hoe vra jy 'n internasionale groep mense "Ag pass asseblief daai hummus" of "Kan ek van die lensie-en-cous-cous proe asseblief"? Toe neem ek maar die naaste bord met spanspek en koljanderblare, neem een met my vingers en begin die bord aanstuur. Ek merk op dat meeste van hulle ook afkyk. Een vir een glimlag elke persoon wat die bord ontvang en met 'n "Mercí!" wat soos myne klink, maak almal kontak. Bene begin strek (sit hulle dan ongemaklik?). Ek gooi nog wyn. Die vrou langs my vra in Engels wat baie naby aan Duits is:"So where are you from? Are you a painter?" En toe ek haar antwoord, toe sê sy: " Ahh!". Skielik is ek sommer gek oor dié mense. Ons is sielsgenote, nie nét omdat ons kunstenaars probeer wees nie, maar omdat ons mekaar se bange verstaan.

3 comments:

  1. Ahhhh, te lekker!! Almal maar vreemd nê :-) Maar hoekom sit julle op die teerpad en piekniek hou?

    ReplyDelete
  2. ...en wonder jy ook met wie gaan jy op die ou end regtig kontak maak?

    ReplyDelete
  3. Hou aan so Fawa - as jy die guts het, nooi `n groep van hulle oor na jou flat vir drinks. Soos `n bom gewerk vir my - toe dink almal skielik ek "ken" mense, en word ek saamgenooi op uitstappies en na ander se kamers. Almal maar alleen, breek net daai ys.

    ReplyDelete