Tuesday, 29 April 2014

хорошо Апетит


EK GROEI

Nes my baard, groei ek. In size ook, ja, maar dis nie wat ek bedoel nie. Ek sien, voel, ruik, proe en hoor nuwe dinge. Ek suig dit op soos 'n spons. Een van daai sponsies waarmee mens skottelgoed was; elke dag dieselfde koppie en bord oor en oor en oor. Die breindood dinge van . . . ek dwaal af. Reg langs my gebou is 'n Joodse sinagoge en Holocaust Museum. Met die Pase die afgelope naweek het hulle die straat afgespan en tente opgeslaan. Toe van Sondag middag tot vanoggend onophoudelik name van Franse gelees wat in die oorlogtyd Jode weggesteek het en Franse Jode herdenk, regdeur die nag. Iets soos 75 000 name gelees. Dis herinner aan 'n tipe kunsinstallasie, net baie diep gewortel in tragiese geskiedenis. 
Môre gaan ek stem by die SA Ambassade. Paulene Gutter, my mede-Suid-Afrikaner by Cité, gaan in 'n langbroek (wat gemaak is van lappe van die eerste verkiesing 20 jaar gelede) daar sit van 07h00 tot 22h00 en dat almal wat kom stem, op haar broek teken of skryf in hul amptelike taal. Dié broek gaan dan deel uitmaak van 'n ander, unieke kunstinstallasie. Ek gaan my naam teken en 'n kort boodskap skryf in Fanagalô; die ONoffisiële landstaal wat miljoene kan praat. Of in Afrikaans? 
En só gaan elke dag verby met 'n nuwe herinnering, 'n nuwe ervaring, 'n nuwe vriend of vriendin, 'n vloekwoord in 'n nuwe taal.
Egészségére! Dis Hongaars vir Gezundheit! Santé! Skol! Nazdarowja! хорошо Апетит! Laat my mos nou wonder: wat is die Engels vir Tsjeers nou weer!?


3 comments:

  1. Ai maar jy is gelukkig om vir Pauline Gutter te leer ken! Love haar werk, en vind haar `n kunstenaar met uitsonderlike integriteit.

    ReplyDelete
  2. Ja Debbie, ons kan lekker pelle raak. Gaan vanmiddag haar werk sien; sien uit!

    ReplyDelete
  3. En natuurlik Saluté vir Italiaans. Groetnis.

    ReplyDelete