Wednesday, 30 April 2014

KLEIN GOEDJIES


DAG 27

Nog 'n dag van stem in 'n ver land, Mia help ontruim en besoeke aan gallerye en museums. Nou tyd vir voete-op en reflekteer oor die dag. Van al die ervarings steek hierdie klein video-
installasie by die Musee la Chasse et le Nature (museum van jag en die natuur) in Marais by my vas. Broos, elegant, weerloos, opgekrul in 'n fetus-posisie, dobberend in 'n onnatuurlike medium van water. Die voëltjie is nie jammer vir homself nie; dis maar net hoe dit is ("A small bird will drop frozen dead from a bough without ever having felt sorry for itself." - D. H. Lawrence). 'n Paar meter verder is 'n volgrootte opgestopte ysbeer; gewere van vervloeë dae en skilderye van fisante en konyne wat leweloos en melkoog hang oor 'n donker kombuistafel; gereed om voor te berei vir 'n feesmaal van konings.
Hoe kan so 'n klein dooie voëltjie so by my bly in 'n dag van grootse gebeure; ek het dan eintlik 'n ysbeer van 'n dag gehad?
Miskien wys die voëltjie my net dat in hierdie groot skouspel van lig en klank en drama en leed, op hierdie enorme verhoog, daar iemand is wat tevrede is om die klein rolletjie sonder stem ook te speel. Miskien net die gordyn ooptrek of in die suile wag om ander te help beter lyk. Hoekom onthou ek my laerskooljuffrou wat gesê het ek teken mooi of my twee goals wat ek gescore het teen Ramblers; maar ek weet nie wat ons land se begroting is nie? Of wie nou die minister van Onderwys is nie? Weereens het ek nie die antwoorde nie. Vra vanaand liewer vir iemand wat omgee. Soos die voëltjie, met sy laaste twee vere, gooi ek vir die wêreld 'n bekende teken.


No comments:

Post a Comment