Tuesday, 22 April 2014

Oscar, Oscar . . .


DAG 16

Ek's nou op dun ys waarvan ek min weet, maar ek gaan my kans waag omdat dit die groot onderwerp in my Parysse vriendekring wanneer ek sê ek kom van Suid-Afrika.
Mense wat swaarkry en 'n slegte hand kaarte uitgedeel is, word hul hele lewe lank geleer deur die samelewing om te veg. Veg om jou toestande te verbeter, veg om bo uit te kom. Gebruik jou talente, jou krag, jou wíl, jou connections, jou klein deurtjies wat mag oopmaak. Mens word geleer deur motivering; hetsy die goue reënboog of faam. Erkenning. Of sekuriteit. Jy word geleer om daarna te smag met alles wat jy het. Vir sommige mense neem dit 'n leeftyd se harde werk en toewyding aan 'n desperate gefokusde ambisie. Hulle speel in agterstrate van townships met 'n opgestopte sokkerbal tot laat in die aand. Hulle speel op 'n blikkitaar of sing in die kerk se gospelkoor. Ander is weer gelukkig en wen 'n Lotto.
Maar nie een van hulle word geleer hoe om, wanneer die sukses sou kom, dit te hanteer nie. Die sosiale village wat dit neem om 'n kind groot te maak, leer nie die kind hoe om dit te verwerk nie. Faam bring geld bring keuses bring verantwoordelikheid. Jy word nie net 'n publieke persoonlikheid nie, jy word die held van miljoene. Jy leef onder die mediamikroskoop. Dinge gebeur outomaties vir jou, deure gaan oop, meisies val om jou voete, maar die groot oog hou jou 24/7 haarfyn dop en jy weet dat dit net wag vir die oomblik, daai een enkele glips, dat jy skeeftrap en jou "halo" gly. Soos ons almal maar boks en Grand Prix kyk: die beste oomblikke is die groot ongeluk of gewelddadige uitklophou van die underdog oor die hero. Dít wat nooit veronderstel was om te gebeur nie.
Nou probeer jouself indink hoe geweldig hierdie druk is?! Jy kan nie net jou hare peroxide as jy vir Bafana Bafana speel en goue kettings aanskaf nie. Jy kan nie vinnige sterk motors ry en nog vinniger en sterker meisies vergader en jou fanclub ignoreer wat buig in jou skaduwee nie. Jy laai druk op jouself wat swaarder en swaarder en swaarder word. Die groot voet trap al heftiger op jou totdat jy soos 'n granaat begin sap lek iewers. En eendag, skielik, as jy nie meer die grootste, blinkste granaat in die mandjie is nie, dan trap daai voet net 'n klein bietjie harder en dan bars jy in 'n gemors van pitte en sous en bevlek die hele spasie óm jou; skielik 'n magtelose jellievis uitgespoel op die strand - totaal uit sy milieue waarin hy gelukkig was.
Ek het nie die antwoord nie, net die teorie. Die hele village moet help. Nie net grootmaak nie, maar herinner waar die persoon vandaan kom en soms NEE sê.


1 comment: