Saturday, 26 April 2014

Three's a crowd



DAG 20

Een van dáái dae beleef. Agskiestoggerig. Drie paar skoene aangepas en nie een gekoop nie. Die verkoopsman het oë gerol. Toe's ek bang vir verkoopsmanne. My internet was af vir die afgelope drie dae. Ek bel die hulplyn van WiFirst, die 20 Euro pm kontrak jy weet, die een waarvan ék die kliënt is. Word in no uncertain terms in Frans vir my vertel daar's fout met my Airport kaart, want wat ek sê is op my skerm is "iempossieble". Toe's ek bang vir haar en sê maar: "OhKê" en laat vaar. Tot die ou op straat wat by my iets bedel gooi my internasionale vingertaal: die Europese Fanagalô vir "gaan weg". Toe is ek bang vir hom en toe reën ek nat op my enigste swart truitjie wat ek al drie weke dra en almal weet dit seker. Toe wag ek by die Citê se laundromat vir iemand om hul klere te kom uithaal sodat ek kan myne kan insit. Natuurlik, net toe ek besig is om haar klere uit te haal en in 'n hopie te pak bo-op, toe kom sy daar aan en gaan tekere. Seker omdat ek presies op daai oomblik met haar luiperdvel tanga in die hand staan. Ek's nou nog bang vir haar, al het ek sedertdien 'n Bialetti koffie en twee wyne gehad. Party dae help mooi smile net nie meer nie. 
Ek wag vir die eerste mooiweersdag dan gaan ek (om te skets) per trein na die dorpie waar van Gogh sy laaste (baie produktiewe) jare gespandeer het. Glo idilies en onverstoord; die kerkie en die geil koringlande staan nog net so en wag. Gee my sommer moed en toe begin skets ek solank die kraaie. Maar met die dag wat ek gehad het . . . wel, julle ken mos daai three-is-a-crowd gevoel?



2 comments:

  1. Ai Fawa. As ek die post en vorige saamlees - twee oppsites van die spektrum. Laat mens ook besef hoe veel ons onbewustelik staatmaak op daai gevoel van "behoort" en die manier waarop dit aan jou `n sekere (vanselfsprekende) staus verskaf wanneer jy by jou tuisplek is.

    ReplyDelete
  2. Dankie Fawa vir hierdie stukkie. Ek lees dit nou sommer 'n paar dae nader jy dit geskryf het, want ek was 'n hele 10 dae sonder internet. Ek kan met jou empateer, (weet nou gladnie of ek dit reg spel nie, maar nouja..) en hoop as ek nou die volgende pos lees, gaan dit beter.

    ReplyDelete