Friday, 2 May 2014


Dag 28

Is Parys steriel?
Die treine van die Metro naby ons gebou rammel elke sewe minute stiptelik soos 'n mini-aardbewing deur my ateljee. Polisesirenes loei gereeld die naglug in. Mense praat, kinders jil. Die reuk van ou urine is op elke hoek; hulle sê dis die reuk van Parys.
Dis lente en die kleure speel kaleidoskoop. Die strate en rivier vibreer van aktiwiteit. Dis moeilik om op een sintuig te fokus; ek's in sensory overload.
Maar elke nou en dan as ek stilstaan en alles absorbeer en verpak in gepaste klein proteïne-folders, word ek bewus van 'n ander detail. Ek kyk af na my enigste paar stapskoene. Maklik om raak te sien. Die cobblestone strate is vaal en dra die patina van jare se spit-and-polish. In perfekte harmonie vleg die rye en rye stene die stad aanmekaar. Presies, perfek. Maar in die patroon lê verskuil ook die heel ander storie: die storie van 'n Europese stad wat sy plek in die natuur as oase vir lewe verloor.
Ek is 'n maand hier en die enigste insek wat ek nog gesien het, was een brommer wat my vars vis kom verken het toe ek dit heelmiddag in die vensterbank los om te winddroog. 'n Paar seevoëls by die rivier en natuurlik duiwe. Van ander dierelewe is daar bra min te sien. Hoe chemies/sosiaal onaantreklik kan 'n stad dan raak dat insekte nie eers hier woon nie? Ek mis die Spotted Eagle Owls wat my en Heloise al baie jare "volg". Kolganse. Tarentale. Spinnekoppe en kewers en wurms en tuinvoëls. Tortelduiwe se geroep. Gemoedelike gesels van vrouens op sypaadjies nadat die dag se werk verby is. Honde wat blaf. Skoolsirenes. Alles en almal wat in Suid-Afrikaanse stede 'n simbiotiese bestaan voer, laat voel mens darem deel van 'n groter bestaan. 
Dís dan wat my pla: die gebrek aan oopte, bome wat nie in perfekte kubusse gesnoei is nie, die totale afwesigheid van grond en klippe. Selfs korrupsie en geweld, dit laat my voel of ek in 'n "perfekte" geskepte mensruimte is waar geen vooruitgang en vernuwing kan kom nie. Ek kla nie, ek dink net ek mis daai adrenalien wat Afrika mens gee. Net so 'n bietjie.

Houtskool en waterverf, 84 x 60cm 

6 comments:

  1. Waar's al die Franse poedels?

    ReplyDelete
  2. Ek weet (ongelukkig, die keer) presies hoe jy voel: Riyadh het seker nog nooit baie van die lewe, wat jy mis in Paris, gehad nie; tog is dit 'n relatiewe 'nuwe" stad en behoort dus nog vars te wees. Maar hier is omtrent geen dierelewe nie. Aan die ander kant, is hier weer 'n kat-plaag wat dreig om die stad oor te neem. Verweider al die katte, dan kom die muise en rotte terug?! Ek dink ons altwee mis ons mooi land.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek's soms net bietjie aan die kla, maar dis vir my 'n ongelooflike ervaring

      Delete