Friday, 9 May 2014

DIE ÉÉN SE LEMOEN,


Sit ons weer plat op ons sagstes in die Palestynse beeldhouer se atlejee en ruil woorde en agtergrond uit met mekaar. Ahmed is eintlik al 9 jaar 'n refugee wat in Lebanon woon, kan nêrens stem of bestuurslisensie kry nie. Ons deel ook ons kos. My hoendervlerkies vir Cecile Weibel se pangebraaide Crösti, Orlin se Bulgaarse Grappa, Marjan en Olga se Switserse pannekoekies met salm vulsel, en natuurlik baguettes en rooiwyn. Dit reën buite en dis koud, maar snoesig hier binne.
Iemand haal 'n lemoen uit en ek merk die Outspan plakker daarop en vertel opgewonde dat dit uit my land kom. Ahmed neem die lemoen en met sy knipmes begin hy versigtig al om die ewenaar sny, diep genoeg om net die skil te breek.
Sommige mense het die vermoeë om iets met styl te doen. Nie met swier of oordrewe trompetgeskal nie; net 'n baie rustige, bekende manier wat wys hy het dit al dikwels gedoen. Iemand kan moeiteloos grondboontjies in sy mond skiet, ander kan 'n sigaret rol sonder om te kyk. Dit dan 'n vinnige lek gee en met een hand toerol. Ahmed weet wat hy doen met die lemoen. Ons hou hom dop. Hy druk sy duim tussen die halfronde in en werk dit tot by die een pool, die een waaraan daai lang wit stukkie lewenskoord ingaan tot diep in die lemoen se binneste. Hy wikkel die halfsfeer los en trek versigtig sodat die wit punt saam uitkom. Toe maak hy die ander helfte los en sny 'n paar kepe daarin en 'n gaatjie in die middel. Hy gaan haal hy gewone kookolie en skink dit in die noordelike halfrond, sommer so bo-oor die wit punt. Hy steek die pit aan die brand en sit sonder bohaai die suidelike halfdrond bo-oor.
Ons trek almal asem op. Hier brand die mooiste kersie met die heerlikste sitrusgeur. Die hele ateljee is gewas in die sagte, warm lig.
Skielik besef ek: die lampie lyk nes 'n erdeware lampie wat ek in Israel by 'n "antiquities" winkel gekoop het lank gelede. Die houer is nou wel 'n Outspan lemoen, maar die beginsel en ontwerp is ten minste 2 000 jaar oud.
Ons het gekuier en gesels óm die lampie tot laat in die aand. Kultuur gepraat. Tale en dialekte. Switsers wat mekaar nie verstaan nie omdat hulle uit twee verskillende dele van klein Switserland af kom. Die Bulgaar vertel van sy land se grense wat soveel keer geskuif is die afgelope paar honderd jaar, dat sy nedersetting 'n ander taal praat as die buurdorpie anderkant die berg; soms is hulle nie eers deel van dieselfde land nie. Die Macedoniër en hy verstaan mekaar. 'n Rus ook. Ek verstaan die Duits en die Hollands. En so bou die lemoen 'n brug tussen Afrika en Europa; tussen die hede en twee eeue gelede.
Niks het verander nie; en tóg is die enigste konstante juis verandering.

2 comments:

  1. Wat 'n pragtige uitdeel van jou gedagtes Fawa.

    ReplyDelete
  2. How beautiful my friend
    your words
    your sketches
    and your present
    thank you

    ReplyDelete