Thursday, 15 May 2014

. . . JUST A FOOL


Gister op pad na Giverny, Claude Monet se tuiste, moet ek vir die trein wag op Gare Saint Lazare. Loop uit in die straat en maak 'n skets. Oral óm my is aktiwiteit: mense op stelte en mooi meisies deel vars langsteel rose uit. 'n Brass band in netjiese uniforms speel jazz. 
Hoekom? vra my handpalms na bo.
"Parce que c'est le printemps!" Omdat dit lente is, sê die ou met die hoed vol vars blomme en kyk my aan soos 'n sousbeen.
Parys het nie verskonings nodig om te party nie. Dit borrel van onder uit die Metro soos 'n bedompige hitte, uit mense se harte tot op straatvlak waar almal dit deel. En dis aansteeklik. In my onkunde en tekort aan Parys se eiesoortige ervarings, het ek 'n diep begeerte om te bokspring. Ek's 'n Springbok net vóór die reën, 'n swaeltjie op 'n somersdag, 'n dolfyn met hoogwater. Raak ek dalk "Parisienne"?!
'n Reuse borrel biggel in slo-mo voor my verby. Dit refrakteer en distort die straattoneel in 'n rëenboog van wonders. Nie ver van my af nie staan 'n jong man met kruisbande en 'n bak seepwater by sy voete. Hy swaai stadig aan 'n lang tou-sirkel en nes ons wors stop op die plaas, blaas dit asem in hierdie lang, delikate borrels. Soos toorgoed sweef dit oor die plein. Kinders hardloop en spring en "pop" dit soos ballonne. Niemand staar nie, net ek verwonder my hieraan.
Pla dit jou nie dat die kinders dit so aanhoudend breek nie? vra ek hom in Engels.
"Non!" Met 'n frons, skouers opgetrek, asof hy 'n ou geheim probeer onthou. "I'm not a masochist;" sê hy, "Just a fool."

Ek's 'n inkommer wat iets geproe het en dit nie kan uitspreek nie. Só "Parisienne" is ek nog nie, en ek en my skaapse glimlag staan maar in stilte om bietjie eer te herwin voordat ek stert-tussen-die-bene omdraai om kastig na die motorfiets met die drie wiele te gaan kyk. Dít kan ek nog soort-van verstaan.


No comments:

Post a Comment