Tuesday, 20 May 2014


KINDERS BLY KINDERS

Sit ek en Mia Sondagaand laat langbeen op die sypaadjie by 'n restauranttafeltjie. Kom die drie klein gevreetjies, nie een oor 10 jaar oud nie, druk hul gekreukelde fondsinsamelingpapiere onder ons neuse en maak geluidjies soos klein muise.
My hart word sag.
Die een meisietjie het 'n pienk sweetpakbroekie aan wat bolletjies maak; sy's seker die vierdie kind wat díe broek erf. Mia het ook 'n pienk sweetpakbroekie gehad. Francois se Boy Scouts het cupcakes verkoop om geld in te samel. Ek is 'n pa, man.
Tien minute nadat hulle weg is, besef ek my beursie met al my geld, kredietkaarte, treinkaartjies, bestuurslisensie ens is weg.
Dieselfde aand gou op internet die kaarte gesblok. Maandag oggend begin rondloop in Parys op soek na 'n plek wat my laaste twee reisigerstjeks sal omruil; dollars vir Euro kontant.
Meeste neem nie meer die ou reisigerstjeks nie want die banke eerbiedig dit nie meer nie. Ander vra "Passport?" en ek probeer verduidelik. Ek is na banke toe, na reisagente toe. Ek loop heeldag soos 'n bedelaar en niemand kan my help nie. Ek loop seker 20 km tot my knieë lam is en my voete my nie meer wil dra nie. Van Marais na die Panteon; af na Boulevard Saint Michel, na Saint Germain, na Saint Sulpice, terug na Saint Michel en weer heen en weer. Ek kan nie op 'n bus klim of op die Metro nie. Ek het nie 'n sent op my naam of enige bewys van wie ek is nie. Ek is niemand. Ek kan net sowel met 'n papiertjie by restaurante rondloop en geld kollekteer. Ek was nog nooit so alleen in my lewe nie. Ver van my dinge, naby aan my skade. Ek verlang vir aardse goed. Soos ID en een Euro wat 'n baguette kan koop. Vir iemand om my krisis raak te sien en te help. Maar die maalstroom van mense en rooi-en-groen ligte en motors en scooters en vliegtuigstrepe daar bo sluk my in soos krill. Ongesiens, ongbelangrik, nutteloos. Niks of niemand sal my eers mis nie.
Drie klein kindertjies het my goed gesteel, maar meeste van alles het hulle my identiteit weggeneem- en daarmee saam my onskuld. Ek is skielik 'n siniese, streetwise toeris wat nie eers meer 'n kind vertrou nie. My sakke staan bol van al my goete wat ek nie op die tafel sal neersit nie; elke nou en dan voel ek daaraan en kyk almal wat binne my persoonlike spasie kom met agterdog aan. Selfs klein kindertjies. 
Parys lyk anders. My wêreld het verander. Maar ek aanvaar dit ter wille van oorlewing. Ek is net bly ek het dit nie reeds moes doen toe ek 8 jaar oud was nie.


Houtskool en waterverf 65 x 50 cm


5 comments:

  1. Ag shame!!! Toemaar, ek weet darem nog wie jy is - ek sou gehelp het !
    Koop 'n glas sjampanje en celebrate - life is good, after all :-)

    ReplyDelete
  2. Ai Fawa, hoe bloei my hart nou vir jou. Hoop alles is nou al reg gestel.

    ReplyDelete
  3. Ja dis ongelukkig een vd dinge wat met mens in Parys kan gebeur die klein b-----s

    ReplyDelete
  4. Ja dis ongelukkig een vd dinge wat met mens in Parys kan gebeur die klein b-----s

    ReplyDelete