Saturday, 3 May 2014

VOETSPORE


VOETSPORE

Vandag in groot voetspore gaan loop. Auvers sur Oise, Vincent van Gogh se laaste blyplek. Ge-backpack met sketsgoed en 'n bottel rooiwyn gaan sit ek op die presiese plek vanwaar hy so lank gelede dié kerk geskilder het. Begin ek washes doen, sepia penlyne bysit, nog bietjie donker skadus invul. Toe val 'n nuwe skadu oor my werk. 'n Ouerige dame begin kommentaar lewer in Frans. Toe ek sé ek is in Cité, versag haar hart heeltemal en sy vertel my nostalgies hoedat sy in die 1960's amper kans gekry het om te gaan. Sy bekyk krities my skildery en begin met die ongelooflikste kommentaar. My verhoudings is te regop; ek kom uit 'n Barok omgewing, né? Duitsland, Engeland of VSA? Sien ek die regterkantse geronde nis? Dit was die oorspronklike fort. 1200's. Toe is daar later aangebou in die 1300's. Sien ek die verskil in klipwerk? Verstaan ek hoekom die argitek vir maande hier kom bly het om die son en klimaat te verstaan voordat aanbouings beplan was? Was ek al binne? Hoe kan ek die plek teken as ek nie binne was nie? Mens teken nie met talent nie, maar met siel. Kyk na van Gogh se skildery: die hele ding lewe. Die vroutjie gee skaal ('n Hollandse vrou, by the way). In die 1500's weer aangebou, die linkerarm noem sy dit; soos 'n ligaamsdeel van 'n lewende wese. Wat 'n diep gewortelde kennis en passie wat sy met my kom deel! Ek voel glad nie in die bek geruk nie, inteendeel, ek beskou dit as 'n groot kompliment. Die grootste belediging wat iemand mens se werk kan gee, is om niks te sê nie. My vaal ou kerkie het skielik 'n storie wat my eie is. Ek het binne gaan ronddrentel, die ongelooflike atmosfeer diep ingeasem en spookasem kiekies geneem met elke oogknip. Toe op na Vincent se graf 'n ent buite die dorp. Op pad eers die koringlande geskets op 'n poskaart, ook van presies dieselfde plek vanwaar hy sy bekende koringlande met kraaie geskilder het. Die poskaart (met denkbeeldige kraaie in) later van die Auvers poskantoor na my ma gepos. Toe, 'n paar stokgooie verder al langs die koringlande langs, tussen al die ander grafte, het my voete kom rus voor die eenvoudige klip wat eenvoudig sê: Hier lê Vincent van Gogh. Toe is daar nie meer spore om te volg nie. Ek besef dat ek my eie sal moet trap. 
Mercí, Madame.
Mercí, Vincent van Gogh.



1 comment:

  1. Sjoe maar jou ervaring praat met my hart... soos ek dit voorlees aan my man... soos ons deur die Kaapse reën opry in Adderley straat oppad om diaramas te gaan teken in die SA museum in die Tuine...

    ReplyDelete