Sunday, 1 June 2014


KOMPLIMENTE IS ONEINDIG

April 1964, Bloemfontein. Die klok lui vir pouse. Juffrou van Tonder vra my om in die klas agter te bly. Ek is reeds half gebukkend oor die blou lapsak wat agter oor my stoeltjie hang, besig om my kosblik met die kameelperd op uit te haal. Dit ruik soos gister se appel en grondboontjiebotter.  Ek wens skielik ek kan saam met Hennie Claassen (lank, krulhare, slot) na sy huis toe gaan; hulle bly reg langs Willem Postma Laerskool. Claassen-Coetzee-Conradie is ons name altyd alfabeties uitgeroep. Jannie Coetzee is linkshandig (vleuel); sy pa 'n vlieënier. Wat het ek gesondig? Ek wil summier sommer gaan kamerverlaat.
"Dis een van die dae weer Sentrale Skou", vertel sy my. Sy wil hê iemand uit haar Sub B-klas moet 'n rooi eerste prys wen by die Gertrude Beck-saal waar al die laerskoolkuns uitgestal word. Ek weet nie wat om te sê nie. Druk my ken op my bors en ruik pannekoek en sosaties van die NG stalletjie en hoor die Bankovs toring roep my naam. Popeye Diedericks gaan die stampkarre wen. My naam. Ek sal jou help, sê sy. Ja, juffrou. My maag voel of ek die Big Dipper ry. Ek teken met my vinger 'n hansworsgesig met 'n punthoed en maak blou kruisies vir oë want oë is blou. Groot rooi mond.
Twee jaar later, in standerd twee, lees juffrou Ross my opstel voor die hele klas saam met Coenie de Villiers s'n. Sy begin Coenie se opstel lees: "Die groot dag breek aan . . ." en kyk op.  Dis tjoepstil in die klas. Ons kan nie wag om te hoor van dié groot dag nie. 
Dieselfde jaar teken meneer Ernst Schoeman klomp lyne op sy swartbord. "Hoeveel driehoeke is daar?" vra hy. "Twaalf!" Rudolph Schoonwinkel (witkop, senter, Versaillesweg). "Agt!" (Johan Meyer, senter, Winterstraat) "Twaalf!" (van Aardt Smit, Waverleyweg, ook links). Ek sê huiwerig: "Sestien . . ." Meneer Schoeman maak my Skêreman - ek kan die hele week skêre uitdeel by die houtwerkklas (die meisies is by naaldwerk en eintlik is ons houtwerk uit karton). SkêreMAN. Almal beny my.
Nog twee jaar later, in Grey-Kollege Laerskool, laat meneer Jan Erasmus ons hele klas elkeen met 'n gewone potlood 'n boom teken. Toe die klas verby is, hou hy my agter. Ek wil gaan King Sting speel, al gooi Theo Opperman so seer (openingsbouler, goue fixed-cog reisiesfiets). Of touchies. Ek wil tuckshop toe gaan en my buskaartjies gaan ruil vir 4c sodat ek een van daai taai donuts met die suiker bo-op kan koop.
"Jy't talent" sê hy. Gaan ek kunslesse neem? kom dit van vér af.

Vrydag 14 Mei 2013. De Compagnie, Wellington. Einde van 'n week se gevorderde skryfkursus. Ons skrywers drentel uit die kelder uit. Ek hoor die Bankovs toring roep my naam.
"Jy's geseën met talent, my vriend" sê Riana Scheepers, "maar gestraf met veelsydigheid." My ken hang op my bors. Sy weet nie eers van my fotos en dat ek 'n squashbal kan slaan nie. 
My nagte is onrustig.
Bo my ma se bed, agter glas, hang 'n hanswors met blou kruisie-oë. Sy groot mond glimlag rooi; rooi soos die rooi rosette wat agterop die prent geplak is.



My Ma - waterverf en conté 52 x 40cm


No comments:

Post a Comment