Friday, 6 June 2014

SAINTE-PAUL SE GEWETE


Sontrale sif soos skoenlapperskubbe in lang vlierte van bo uit die koepel van die Saint Paul katedraal, draai driemaal in die rondte om ligvoets hier onder op Maria te kom opkrul soos 'n skootkat. Gedempte stilte vertel van eeue se formaliere, se bede, se wanhoop en salf. Tweevinger priesters en heiliges staar stil uit hul brandskilder vensters; beskuldig en veroordeel, wink en wys. Gewyde orrelmusiek, skaars hoorbaar, Awe Maria van iewers af, van een van daai baie geheime plekke en van agter deure wat ek nooit sal mag oopmaak nie.
My een Euro word vrygelaat in die gleuf, klingel deur die kerk. Ek neem my klein kersie in sy geel glasbakkie en steek dit aan by een van sy meer ervare maats. Gloei warmte tot in my hart. Ek stap gedweë tussen rye houtbanke deur. 'n Vloerplank kraak. Onder die groot koepel staan ek stil, kyk op. 'n Duif soek uitkoms, fladder verward en kry sit op St Paul se skouer soos 'n gewete.
Ek kry die perfekte plekkie vir my ma se kers. Aan die voete van Maria sit ek die kersie neer en staan terug. In die doodse stilte van die kerk, dans my kers se vlammetjie skielik asof daar 'n trek deur die Maria-nis gaan. Dan staan dit weer stil en word 'n stillewe-met-kers-en-Maria.
Dis somerwarm daar buite. 'Skies Ma, en 'skies Maria, vir my kortbroek en sandale. En 'skies vir my inmeng hier met jul innige gesprek. En 'skies dat ek my kamerdeur geklap het en 'skies dat ek nooit genoeg dankie gesê het nie. 'Skies dat ek nie veel sê as ek kom kuier nie; maar ek sit lekker in stilte met jou, Ma. So ok, ek los julle nou. Gesels lekker.
Ek weet my ma sal verstaan; ek's nie seker oor Maria nie.

Hoog bo, waar bedompige lug teen koepelvensters wasem
styg kerslig op en uit, 'n moeë spook se asem
maar diep onder in 'n donker, drupnat kelder
brand 'n geduldige kersie sy onderwêreld helder.

1 comment:

  1. Sjoe, naais Fawa. Ek weet Tannie Iris sal verstaan...

    ReplyDelete